"Gach smuain a-chum ùmhlachd Chrìosd" (2 Corintianaich 10:5)



Josef du Toit: Afrikaans-Geneefse Psalmboek
 

08/10/2007 AD


Die Afrikaans-Geneefse Psalmboek (in elektroniese formaat) kan gratis bekom word deur navraag te doen by josefdutoit(at)yahoo.ie.


Aangesien mens dikwels misverstand teëkom oor die motiewe van aanhangers van die Geneefse Lied, wil ek lesers veral op die volgende uittreksel uit die voorwoord wys:



‘Vrees nie waar weerklink ‘n lied, want slegte mense sing niet.’


So het voortvlugtende Geuse mekaar in tye van vervolging vertroos by die aanhoor van die Geneefse Psalmlied.


In 1936 AD voltooi Prof J D du Toit (Totius) die eerste Afrikaanse Psalmberyming, en na verskeie veranderings voorgestel deur die Interkerklike Hersieningskommissie, word ‘n finale weergawe uiteindelik op 19/02/1936 AD te Lindley in die Oranje Vrystaat, goedgekeur.


Totius het ten spyte van die sware hand van die Interkerklike Hersieningskommissie nie alleen die ritmiese struktuur van die Geneefse melodieë by 106 van sy berymings behou nie, maar ook ‘n beryming daargestel wat steeds onge-ewenaard in getrouheid aan die Bybelse grondteks en in letterkundige gehalte is. Die Geneefse Lied is nou maar eenmaal geen kanonieke toonsetting nie, en die waarde daarvan moet gevind word in die musikale estetiek en die historiese kultuurerfenis, wat natuurlik ook gepaardgaande positiewe Godsdienstige newe-effekte inhou.


Die geslagte wat sedert 1937 AD van hul Geneefse erfenis ontneem is, sal in baie gevalle ‘n terugkeer na hierdie erfenis onmoontlik vind. Ondersteuners van die Geneefse Lied mag dit dus nooit aan diesulke opdring nie, maar dan vertrou ons dat dié vir wie die kultuurgaping onoorkomelik is, nie hul broers en susters se kultuurvaste liefde vir hierdie besondere melodieë uit onkunde sal veroordeel nie.


In die Geneefse Lied sien ons vandag as’t ware ‘n hand wat uitstrek uit die verlede, wat na ons roep uit die smarte van vervolgde Hugenote se lyding, uit die geloofsmoed van Geuse, uit die volksplanting in Afrika, saam met die kreun van ossewa oor berg en vlakte, en uit die angsnagte van Vegkop, Bloukrans, Bloedrivier, Majuba en Spioenkop. Wanneer ons vandag ‘n Psalm aanhef op dieselfde melodie as die gelowiges van die laaste vier en ‘n half eeue, gryp ons daardie uitgestrekte hand aan, en vertel dit aan ons van die ewige onveranderlike God van ons voorsate in die geloof; die God van verlede, hede en toekoms; en so sal die Heilige Gees vandag nog in ons werk, sodat ons saam met Dawid kan sing in Psalm 138:8:  Die HERE sal dit vir my voleindig! U goedertierenheid, HERE, is tot in ewigheid: laat nie vaar die werke van u hande nie!”

 
‘n Verdere uittreksel uit die Voorwoord rakende die modus operandi gevolg in die samestelling van die AfrGP word onder aangeheg.


‘n Nuttige hulpmiddel tot die aanleer van die Geneefse melodieë, is die orrelopnames vir al 150 Psalms wat op die netwerf van die Protestantse Kerk van Nederland te Dinteloord (voormalige Nederlands Hervormde Kerk te Dinteloord) te vinde is. Die gemeente vorm deel van die behoudende groepering bekend as die Gereformeerde Bond. Hul netwerfadres is: http://www.hervormddinteloord.com/muziek.htm.


Outentieke Geneefse gemeente-sang is egter tegelyk “A Capella” (d.i. sonder instumentale begeleiding) en eenstemmig (d.w.s. ongeharmoniseerd). Trouens my eie ervaring was dat die Psalmliedere eenvoudig nie behoorlik verinnerlik word tensy daar aktief na ‘n doelwit van begeleidinglose sang gewerk word nie. Sodoende is die “kruk” van ‘n opname/begeleiding onnodig, en kan daar enige oomblik en vir elke geleentheid (soos ons voorouers dit kon doen) met ‘n gepaste Psalmlied uit die hart vorendaggekom word.


As u wel die Dinteloordopnames as eerste stap tot aanleer van die melodieë gebruik, let asseblief daarop dat die opnames op twee plekke klein ritmiese verskille bevat in vergelyking met die bladmusiek in die AfrGP. Dit behels die invoeging van ‘n halfnootrus aan die einde van reël twee by die melodie vir Psalm 97, en die verdubbelling in die lengte van die 4de en 5de note (van kwart- na halfnote) in die voorlaaste reël van die melodie vir Psalm 104. Hierdie alternatiewe lesing van die ritme in die betrokke twee gevalle kom wel in sommige publikasies voor. In die AfrGP is die lesing wat oorwegend vandag as die oorspronklike aanvaar word gebruik.


Vir diegene wat ‘n begeleiersboek benodig: Een van die nuutste koraalboeke by die Geneefse Psalmmelodieë, is Dick Sanderman se “Koraalboek 150 Psalmen (ritmisch)”. Daar bestaan ook ‘n ouer isometriese weergawe wat nie die oorspronklike ritmes gebruik nie. Wees dus versigtig dat u spesifiek uitkyk vir die weergawe “ritmisch”. Die werk is ongelukkig heel duur, maar is op die internet bestelbaar by die welbekende bladmusiekuitgewers Broekmans & Van Poppel: http://www.broekmans.com.


Geneefse groete uit Dublin


Josef du Toit


Verdere uittreksel uit die Voorwoord tot die Afrikaans-Geneefse Psalmboek:


“In hierdie eerste volledige Afrikaans-Geneefse Psalmboek is die 106 Geneefsmatige berymings uit die 1936-stel weergegee. In die geval van die orige 44 moes Geneefsmatigheid herstel word. Twee beginsels is in hierdie verwerking toegepas: Eerstens, dat die Bybelse grondteks getrou gebly moet word, en tweedens, dat die oorsponklike Totius-beryming herkenbaar moet wees uit die verwerkte beryming. Die 44 verwerkte berymings betrek die volgende Psalms: 2, 7, 10, 11, 12, 14, 18, 20, 23, 28, 37, 45, 46, 50, 53, 59, 60, 63, 64, 69, 70, 78, 79, 82, 83, 88, 96, 101, 102, 104, 108, 109, 112, 114, 115, 119, 120, 125, 137, 140, 144, 145, 147, 149.


Verder sal u vir elke beryming die ooreenkomstige 1562-Geneefse melodie vind. (Die volgende Psalmberymings deel melodieë: 5=64, 14=53, 17=63=70, 18=144, 24=62=95=111, 28=109, 30=76=139, 31=71, 33=67, 36=68, 46=82, 51=69, 60=108, 65=72, 66=98=118, 74=116, 77=86, 78=90, 100=131=142, 117=127.)


Waar ‘n beryming met ‘n verkorte strofe eindig, is daar bo aan die strofe aangedui dat die ooreenkomstige hoeveelheid eerste of laaste reëls van die melodie gebruik moet word. In sommige gevalle is ongewone spelling aangewend om die metrum duideliker aan te dui. Die Ekumeniese Belydenisskrifte, die Drie Formuliere van Eenheid, die amptelik genotuleerde weergawe van die 1838-Gelofte, ‘n Gereformeerde Kerkorde, Liturgiese Formuliere, sowel as ‘n Gereformeerde Diensorde is aan die einde van die bundel ingesluit.”




Bedell: Leabhar na Psailm (1640)
Hiosop às a' Bhalla

Freumh à Talamh Tioram